Nakoming van administratiewe voorskrifte en nie voldoening aan Nasionale Bouregulasies en die Wet op boustandaarde.
KOM EERDER ADMINISTRATIEWE VOORSKRIFTE NA; VRA MAAR DIE ONTWIKKELAAR WAT DIT NIE GEDOEN HET NIE.
Die versoeking bestaan altyd om ‘n administratiewe bevel of bevinding te ignoreer. Veral waar jy vas oortuig is dat die bevinding ongeldig en verkeerd is.
Dit is juis wat ‘n ontwikkelaar onlangs tot sy koste gedoen het. Die ontwikkelaar het ‘n kennisgewing van voldoening ontvang wat op hom gedien is in terme van die Nasionale Omgewingsbestuurswet; die kennisgewing het vereis dat alle bouwerk onmiddellik op sy eiendomme gestaak moes word. Die ontwikkelaar het die kennisgewing ignoreer.
Hierna het die Hooggeregshof ‘n interdik toegestaan wat die ontwikkelaar verbied het om voort te gaan met konstruksie. Die hof het die ontwikkelaar tydens die aansoek oor die kole gehaal vir sy minagtende optrede wat gesien is as ondermynend van ‘n gesonde en effektiewe stelsel van openbare administrasie.
Jy is verplig om hierdie kennisgewings na te kom – selfs as dit later blyk dat die kennisgewing ongeldig was.
Jy kan oor die algemeen aansoek doen vir hersiening of tersydestelling van administratiewe handelinge – in hierdie spesifieke geval was daar ‘n voorgeskrewe prosedure waarop beswaar gemaak kon word. Voorgeskrewe interne prosedures moet eers gevolg word, voordat ‘n beswaarde party hom tot die hof kan wend.
Hierdie saak illustreer hoe verskillende regte teen mekaar opgeweeg word – die Grondwetlike reg om jou eiendom te gebruik word opgeweeg teen ander partye se reg op ‘n omgewing wat nie skadelik vir die gesondheid of welstand van mense is nie.
Die boodskap aan ontwikkelaars is duidelik – indien ‘n belanghebbende party ‘n oortuigende saak kan uitmaak, sal die hof nie skroom om in te gryp om die omgewing te beskerm nie. Om kanse in hierdie verband te vat, kan jou duur te staan kom.
NOTA AAN PROKUREURS: Die uitspraak in Khabisi NO & another v Aquarella Investment 83 (Pty) Ltd & others, TPD Saaknommer 9114/2007 is beskikbaar op die SAFLII webwerf.
‘N UITSIG OOR DIE SEE EN DIE SLOPINGSBEVEL
Twee partye met aanliggende grond in ‘n kusgebied is steeds gewikkel in ‘n voortslepende hofgeding.
Dit wys weereens hoe belangrik dit is dat jou bouwerk voldoen aan die voorskrifte van die Nasionale Bouregulasies en die Wet op Boustandaarde.
Gebeur dit nie, kan ‘n slopingsbevel jou voorland wees.
In hierdie geval is A se uitsig oor die see belemmer deur die oprigting van B se nuwe woning; A beweer hierdie woning is gebou sonder dat die bouplanne behoolik goedgekeur is.
B het hierna aansoek gedoen vir ‘n bevel ingevolge waarvan hy gelas sou word om skadevergoeding aan A te betaal, eerder as wat die woning aan ‘n slopingsbevel onderhewig sou wees.
Die hof verklaar die bouplanne ongeldig en beveel die plaasklike owerheid om die situasie te hanteer en te reguleer. Die moontlikheid bestaan dus dat indien die partye nie tot ‘n vergelyk kan kom nie, die plaaslike owerheid wel ‘n slopingsbevel kan uitreik.
Tree dus voorkomend op. Maak seker dat jou bouwerk voldoen aan die toegelate hoogtebeperkings, boulyne, voorskrifte in die titelaktes, ensovoorts, voordat jou bouwerk ‘n aanvang neem.
NOTA AAN PROKUREURS: Die uitspraak in High Dune House (Pty) Ltd v Ndlambe Municipality & Others, Saaknommer ECD 1811 / 2006 is beskikbaar aan LexisNexis inskrywers as [2007] JOL 20145 (E).