Rapporteer US water vermorsing en help hulle en die dorp

Afskrif van E-pos:

Beste Me Bredekamp

Die Universiteit beskou die vermorsing van water in baie ernstige lig en daarom waardeer ons u epos.

Die Universiteit maak van twee bronne van water beskikbaar. Water vanaf die munisipaliteit wat aan al die kategorie 3b beperkings moet voldoen en tweedens water vanaf die eerste rivier en damme op Coetzenburg, wat gebruik word vir besproeiing van landskapering en sportvelde, en wat deur kwotas gereguleer word. Reeds die laaste sewe jaar word geen water vanaf ons boorgate gebruik nie. Alle besproeiing wat met munisipale water plaasvind, is gestaak en slegs rivier water word nog aangewend vir besproeiing op beperkte hoeveelhede. Die landskapering kry net genoeg water om te oorleef en vertoon dus nie baie goed nie, as gevolg van waterbesparings maatreëls.

Binne die US geboue is daar baie water-effektiewe toerusting aangebring om water te spaar byvoorbeeld stortkoppe, toilette en selfs op sekere geboue die gebruik van gryswater.
Op die besproeiingskant is meer as die helfte van die besproeiing in die laaste 2 jaar geoutomatiseer met sentrale beheer stelsels. Dit beteken water word baie meer effektief aangewend as in die verlede. Groot dele van die landskapering is ook verander na meer volhoubare landskaperings met plantegroei wat min water nodig het. Huidiglik word ʼn groot studie gedoen om toekomstige sistemiese maatreëls te implementeer om water te bespaar.

Die US doen baie in sy vermoë om water te bespaar en die verbruik te beperk. Die besproeiing wat aan was net nadat die Rektor sy toespraak gelewer het was ʼn ongewenste aksie buite die norm wat ongelukkig ook nog op die verkeerde tyd en plek plaasgevind het. Ons het stappe geneem om verder te verseker dat water nie gemors word nie. Die persoon wat die besproeiing self aan gesit het is bewus gemaak van die konsekwensies van water mors.

Laat weet my asseblief dadelik as u water sien wat gemors word sodat ek kan toesien dat dit so gou moontlik herstel word. Na ure is 021 808 4666 die nommer om dit aan te meld.

Groete
Nicolette

Nicolette van den Eijkel
Hoofdirekteur: Fasiliteitsbestuur
Chief Director : Facilities Management

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *