(Brief in die Burger van 12 Augustus 2017)
Gemeenskapsorganisasies en ander belanghebbende partye in Stellenbosch is op 8 Augustus deur die Stellenbosse munisipaliteit per e-pos meegedeel dat daar eerskomende Maandag die 15de ’n openbare deelname vergadering oor planne vir die “verbetering” van die R44 in die Stellenbosse stadsaal sal plaasvind wat deur Minister Donald Grant bygewoon sal word.
Dit lyk soos nog ’n “tegniese” nakoming van die openbare deelname/samewerkende regering vereiste in wetgewing. Ons onthou te goed hoe die burgemeester van Kaapstad, Patricia de Lille, ’n rukkie gelede vir ’n gehoor in Atlantis wat luidkeels hulle opposisie tot Stadsraad planne daar te kenne gegee het, gesê het “ Ons is die regering, ons kan doen wat ons wil”!
Die Stellenbosse Belastingbetalersvereniging en ander gemeenskapsorganisasies het by herhaling substantiewe, beredeneerde besware teen provinsie se R44 planne ingedien, met behulp van professionele padingenieurs. Tot op datum is geen reaksie van provinsie of plaaslike regering ontvang nie.
Te dikwels is die antwoord dat kennis geneem word van die insette, en regering net eenvoudig voortgaan met hulle planne.
Wat dan, sou die doel wees van openbare deelname vergaderings? ’n Tegniese nakoming van grondwetliek vereistes?
Die Stellenbosch, Paarl en Franschhoek wynlande is unieke landelike omgewings, van onskatbare kultuur-historiese waarde. Stedelinge stroom vakansiedae en naweke by die duisende na die wynlande op soek na die natuurskoon, berge en valleie – en natuurlik, wyn. Toerisme is een van die grootste werkverskaffers en ekonomiese sektore in die wynlande.
Politici en amptenare wil dit vernietig, ten spyte van die samewerkende vereiste in die SA grondwet, word burgers eenvoudig geboelie en geignoreer.
Vat die verby verkeer deur Blackheath en Brackenfell, los een van SA se kosbaarste omgewings uit! Die antwoord lê nie in groter paaie vir verkeer na Stellebosch nie. Ons eikebome is monumente, Dorpstraat kan nie verbreed word nie en die parkering is al klaar te min. Fokus liewer op openbare vervoer en beter bestuur en beplanning.
Andre Pelser
Voorsitter,
Stellenbosse Belastingbetalersvereniging.